Thursday, October 27, 2011

Die wegtrek: 24-25 Oktober 2011

Maandag. Na die kinders weg is skool toe, en Aurona jr vir Thinus by die werk gaan aflaai het, pak Aurona die laaste goed en reel dat al die monde kos kry in ons afwesigheid. Die plan is dat ons mekaar 1uur in Hatfield kry en dan vandaar met die Gautrein na die lughawe. Gelukkig het alles vlot verloop. Aurona moes net haar program met 'n uur vervroeg om nog 'n kredietkaart by die bank te kry. Sy het dit gelukkig gemaak. Thinus het nog vraestelle gemerk, vrae vertaal, boeke ingegee ens.

Die Gautrein het goed gewerk en ons was heeltemal betyds op die lughawe - 'n rare gebeurtenis.
In die Gautrein


Ons aanvanklike plekke op die vliegtuig was heel agter langs die toilette. Thinus het sy beste charm gebruik en eers probeer om ons in besigheidsklas te kry. Toe dit nie werk nie het hy as tweede prys twee sitplekke langs die venster tweede ry van voor in die Airbus 800 gekry, met een van die drie sitplekke oop.

Dinsdag: Vieruur die oggend voer die Duitsers ons ontbyt. Twee ure op Frankfurt voor ons vertrek na Parys. In Parys hoor ons dis nog twee ure na die hotel. Dis twee treine en 'n bus tot by die hotel ongeveer 70 km van die lughawe en 40 km suid van Parys.
Ons Lufthansa Airbus 300 380

Ons eerste indruk van Parys is vaal, mistig, nat, koud en donker. Gelukkig het die son later opgekom en die wolke weggetrek, en het ons 'n lieflike dag.

By die bushalte
Ons was ongeveer 11 uur by die hotel in ons kamer. Ons het net gestort voot ons terug is Parys toe. Die stasiemannetjie en met sy gebroke Engels en ons ontbrekende Frans oortuig ons toe om twee weekkaartjies vir die treine en busse te koop. Dit het al baie handig ingekom. Ons besluit om eerste die Notre Dame te besoek. Gelukkig het ons 'n GPS by ons, en 'n toeristekaart sonder straatname - ga, na baie kilometers te voet en die derde probeerslag kom ons by die regte Notre Dame uit! Nou weet ons ook hoe werk die GPS as mens loop!

Ons het toe ons eerste ete op Franse bodem gehad. Die voorgereg was voortreflik, maar die hoofgereg baie gewoon. Dis ongelooflik hoeveel tafeltjies die restaurante inpak in die kleinste spasie in. Terwyl ons daar was, sak 'n vreeslike donderbui uit. Ons konnie glo hoeveel emmers water uit die lug val nie. Dit was in 'n oogwink verby en toe ons klaar geeet het, was die strate pragtig.


Na die ete was ons flou en het ons weer die trein gepak terug hotel toe. Die treine raak nou al tweede natuur. Die pad is nogal lank terug as mens moeg is. Na die trein moet ons nog bus ry ook voor ons by die hotel kan uitkom. Dit was 'n lang dag en ons het dankbaar gaan slaap!

No comments:

Post a Comment