Saturday, November 5, 2011

Saterdag 5 November

Dis weer konferensie die hele oggend en Thinus praat 10:20 in saal 9c. Dit gaan heel goed, sy werk is heel anders as die ander navorsing omdat hy die velde kombineer. Ek dink werklik daar is 'n unieke geleentheid om iets in Accounting Ontology te doen. Sy voorlegging en die ontologie is by https://sites.google.com/site/ontologyprojects/accounting.

Vrydag, 4 November 2011 - IAAEr kongres

Ons konferensie die hele dag. Ons begin 8:30 en hou 18:40 op, en daarna het ons die dinee wat 20:30 begin. Hierdie Italianers met hulle vreeslike laat-eet-tye. Sien IAAER se website by http://www.accountingrenaissance.org/en/index.html.

Die konferensie is heel anders as waaraan ek gewoond is, almal dra pakke en dasse na die sessies toe! By ons kongresse is alles heel informeel, selfs die sprekers dra selde dasse en meestal jeans, glad nie pakke nie.  Ek verstaan nie veel nie, dis bietjie uit m liga, en week maar net so in die accounting vibe.

Dis lekker trietsig in Venisie, dit reen heeldag en dis koud!

Die ete is by 'n pragtige hote, hotel Bon Vecchiati, naby die Rialtobrug en ons is glad nie reg aangetrek nie. Ons moet stap soontoe. Dis vreeslik fancy en ons het nie sulke lang jasse en fensie klere saamgebring wat warm genoeg is nie. Ek sit aan tafel langs drie Italiaanse godinne en voel vreeslik vaal, kort en rond. Ons kom baie laat eers weer in die hotel na die terugstap.

Friday, November 4, 2011

3 November, Venisie

Wat 'n lekker verassing! Die kongres begin vandag, maar op die finale program is dit net allerhande vergaderings en dinge, so ons het die dag af. Ons werk eers mooi uit waar die kongres is (dis belangrik gegee Venisie se paadjies) en daarna sorteer ons bietjie werk en die powerpoint voorlegging uit. Toe vaar ons die strate in.

Dis al laterig toe ons die pad aandurf, maar ons besluit ons stap langpad om San Marco toe. Die groot ding van hierdie plek is die straatjies en die stegies, die kanale en bruggies, en die duisende klein winkeltjies. Ons moet vir almal tuis geskenke koop wat geen triviale taak is nie! Als is regtig duur, maar als is so mooi!  Thinus het vir hom 'n regte Gandalfpyp gekoop.

Toe ons uiteindelik na 'n lang gedrentel op San Marco kom, is die weer lieflik! Gelukkig is die son uit en kan ons die goue mosaieke op San Marco en die San Marco katedraal in die son sien. Laas het ons so natgereen, ons was in kniediep water op die San Marco plein. Ons is toe weer in die St Mark's Basilica in, ek geniet altyd hierdie ou kerk. Dis so donker maar het al die ongelooflike goue mosaieke en marmervloere. Ons het selfs weer E2 elk betaal om die Pala d'Oro weer te sien,  alles net goud en edelgesteentes.

Ons het toe nog bietjie rondgedrentel op die plein, het die Bridge of Sighs gaan soek wat onder restourasie is, en toe begin terug drentel deur die straatjies en winkeltjies. Ek het gelukkig weer ons Bruschetta-plekkie gekry wat nou E8!! vra vir 'n skyfie Bruschetta. Elke keer is hul duurder! Ons het E12 betaal vir 'n piepklein botteltjie Proseco en 'n skyfie Bruschetta wat ons gedeel het, en mens staan en eet!

Langs die pad het ons ingeval in 'n Pizza restaurant waar ons vir die mense kon kyk en Thinus sy Gandalfpyp ingewy het. Toe is ons terug hotel toe zig-zag deur die strate, oor die kanale en by al die winkeltjies in. Ek gaan nog vir my 'n handsak koop as ek net verby die prys kan kom!

2 November, Venisie

Ons ry 6:30 om betyds op Heathrow te wees. Ek is so dankbaar dat Sarel ons gaan aflaai, dit is darem net bietjie makliker as treine en moltreine met mens se bagasie. Lindi hou die dag skool so dit is 'n besige dag vir die London-Hiemstras.

Die vlug Marco-Polo toe verloop sonder voorval. Daar is 'n sitplek lang Thinus oop wat dit altyd bietjie lekkerder maak as mens vlieg. Die BA sitplekkies is maar klein.

Op Marco Polo kry ons ons bagasie en werk toe uit om met die bus tot in Venisie (eiland) te kom. Daar gekom moet ons die hotel kry wat nie so eenvoudig is nie. Die GPS-tanie help nie veel nie want sy vat ons met die agterstraatjies langs wat mens vinnig laat verdwaal. En ons sleep ons tasse, meer as 'n km ver. Toe ons oor een van die brue moet gaan, gryp twee Italianers ons tasse en help ons dra, net om aan die anderkant E20 elk te vra!! Belaglik! Ons se^ toe maar vir hulle om die tasse terug te dra maar onder luide protes boelie hulle toe wraggies E10 uit ons uit. Dis R111! Ek besluit daar en dan as 'n Italianer weer my tas wil dra begin ek luidkeels gil.

Ons hotel is Ca' Fontanea, en ons bly letterlik in die solder. Ons moet heeltyd ons nekke buig om nie ons koppe te stamp nie. maar ons het 'n stoepie of balkonnetjie wat op die dak uitloop. Na ons uitgepak het, dog ons ons le^ net bietjie maar raak altwee aan die slaap. Wat 'n waste! Slaap in Venisie! Ek probeer toe bietjie regmaak aan al die werk wat ek verloor het en vroegaand is ons toe straat in om plek te kry om te eet. Ons is meer in die nie-toeriste gedeelte van Venisie en die winkeltjies en straatmark is baie interessant. Ons werk toe maar net 'n Pizza elk deur en is terug hotel toe. Ons is gelukkig baie naby die universiteit waar die kongres is.

1 November, Londonbesoeke

Ons is vroeg weg om ons twee besoeke te gaan doen. Dit was weer 'n trein en moltreintog van formaat, maar darem hiedie keer sonder bagasie. Ons eerste besoek is aan Allison McManus. Sy is 'Technical Manager' van die Conceptual Framework Poject van die International Accounting Standards Board (IASB),  30 Cannon Street,  London. Thinus het aan haar verduidelik wat ons doen en teen die einde was sy ergtig geinteresseerd. Die konsepsuele raamwerk projek het nie baie prioriteit tans nie, maar sy is nou bewus van die werk wat ons doen en het toekomstige samewerking beloof indien moontlik. Mens kan  nie meer vra van so 'n kort besoek nie.

230 Cannon Street is regby St Pauls, maar ons het net 2 ure om by ons tweede besoek uit te kom, en ons moet weer moltrein en trein Egham toe. Die 2e besoek is aan Professor Jeffrey Unerman,  Professor of Accounting and Corporate Accountability,  Head of the School of Management, Royal Holloway, University of London, Egham. Thinus het meer met hom gesels oor of sy projek 'n PhD scope het, en hy was op die ou einde baie positief en het 'n klomp waardevolle verwysings gegee. Hy het ons op 'n vinnige toer van die universiteitsgeboue geneem, die Egham kampus het 'n ongelooflike mooi ou gebou. Ons het toe 'n taxi terug geneem na Sarel hulle toe. Die universiteit is so 11myl van hulle af en die taxi het ons 37pond gekos! Dis nou R13 teen die pond!

By die huis gekom moet Lindi vir AD gaan haal en laai sy ons af by die Buttons perdewinkeltjie. Ek dink dit is die winkel by hierdie link. Die plekkie is soo vol, mens kan jou nie roer nie, en in die warboel begin ek toe perdryboots aanpas. Die tannie is so entoesiasties, sy verdwyn kort-kort in die solder in en kom met hope bokse boots uit. Lindi is toe al terug, maar sy pas en pas en als is te groot, te klein, te lank of te nou. Net toe ek besluit ons kan nie langer tyd spandeer nie, kom sy met die perfekte paar boots daaruit en ek besluit dadelik ek koop hulle - vreeslik impulsief - maar daar het my beursie by die huis agtergebly nadat Thinus die taxi betaal het.

10 uit 10 vir Lindi se geduld. Dankie Lindi! Sy het my wraggies huistoe en weer terug winkeltjie toe geneem, ek het my boots betaal, hulle die res van die dag gedra en die hele nag slapeloos rondgerol or my spandabelrigheid.

Gelukkig kon Lindi ons toe ook hul nuwe huis wys. Hulle teken kontrak 12 November en begin dan intrek. Ek kon net deur die venster loer maar kan sien dit gaan 'n lekker leefhuis wees, en dis die regte ding vir die seuns se (baie goeie) hoerskool wat dan stapafstand is.

Maandag, 31 Oktober, London, Winchester en Halloween

Ons staan Maandag op ons tyd op en sorteer bietjie wasgoed uit. Ons franse hotel het so na rook geruik dat alles uit ons tasse muf is.

Die skole begin weer vir die London-kinders en Sarel en Lindi moet hul organisasie ook inbeplan. Ek sukkel met my rekenaar en het 'n klomp werk om af te handel. Ons moet nog voorberei vir Thinus se afsprake die volgende dag.

Sarel het verlof om ons rond te neem en bietjie te kuier. Hoe spesiaal is dit nou nie! Die plan was aanvanklik om bietjie te gaan rondloop of fietsry in Windsor maar die weer is baie trietsig. Later die oggend neem Sarel-hulle ons toe Winchester toe. Dit is blykbaar een die beste plekke in die UK om te bly. Die dorpie is pragtig en die Winchester Cathedral is 'n absolute hoogtepunt. Een van die konings wat daar begrawe is, is Egbert. Die katedraal dateer uit die 800s, dis net ongelooflik hoe oud hierdie geboue is. Die katedraal het baie gedenkplate en vermeldings van die boereoorlog binne in. Ek is altyd half oorbluf en ontsteld na besoeke aan sulke geboue en kerke. In die eerste plek is dit net verstommend hoeveel eeue se geskiedenis en stories daar in sulke ou geboue is,  maar aan die ander kant beklemtoon dit so mens se eie nietigheid en hoe vinnig mens se ou lewetjie in die niet verdwyn. 

Middagete is in 'n 1000 jaar oue pub waar ons regte 'Pie and Gravy with a Draft' eet. Heerlik! Toe moet ons jaag sodat Lindi die kinders kan oplaai na skool.

Bastie en Geksie
Die aand is dit Halloween. Lindi maak die huis se voordeur op en ons almal moet aanrek, en en sy soos grootmens heksies (of soos sy lekker misspel - geksies). Bastie is onder protes in sy Spinebob-pakkie, Sybren en AD het die vreeslikste maskers op en toe vaar ons die strate in. Dit het Batie net 'n kort rukkie geneem om agter te kom jy klop aan die deure en kry lekkers, en daarna was dit die lekkerste dag ooit met gille en huppels van plesier. Sy arm het later seer geword van reguit-arm die lekkers dra, mar daar was geen keer nie!

Ons sorteer verder die aand maar net ons dinge uit en ek is dankbaar vir 'n bietjie meer rustigheid.

Sondag, 30 Oktober, London

Ons trein vertrek 10:15 van Paris-Nord af. Ons ry met die Eurostar en dit kos fyn beplanning om ons betyds op die stasie te kry. Die grootste deurmekaarspul is die feit dat daylight-saving inskop in beide Frankryk en Engeland. Ons stel toe horlosies, selfone en vra ontvangs om ons wakker te bel, maar iewers kry ons dit nog steeds reg om alles deurmekaar te he en het ek op die ou einde net 15min om klaar te pak ipv die 1 uur en 15 min (ek was te lui om te pak die vorige aand). Met net 10min vir ontbyt eet ons gou iets en hol busstasie toe met ons hele pakkaas, net om die die bus te mis en agter te kom die busskedule is anders op Sondae en ons het 40min ipv 10 tussen die busse.

Ongelukkig mis ons die die eerste trein ook, maar gelukkig het ons nog steeds genoeg tyd ingebou dat ons 20 min voor inkloktyd by die stasie aankom. Ek is flou gestress. Daar is dit toe nog paspoortbeheer en ons arme Suid Afrikaners word weer behoorlik ondersoek en ondervra. Daai groen paspoortjie is deesdae 'n slegte ding.

Die treinrit is pragtig en eintlik baie vinnig en na bietjie meer as 2 ure is ons by St Pancras in London. Ons wen nog 'n uur ook! Ons het met Adriaan-hulle gereel om ons by Waterloo te kry 12:00 en ons moet toe met ons tasse uitsorteer hoe om by Waterloo op die moltrein te kom. Was nogal 'n storie, ons moes 2x oorklim met die pakkaas en dis trappe op en trappe af.

By Waterloo sms Adriaan dat hulle by die 'groot wiel' is, maar waar ons uitkom uit die stasie uit, is daar g'n wiel nie. Soos Murphy dit wil he is ons toe heeltemal aan die verkeerde kant en moet ons om die blok. Gelukkig is daar so 'n opskure 'grafiti allowed' tonnel waardeur ons aan die anderkant kan kom. Teen die tyd swik my knietjies al van die tasse, en wil my lyf nie meer sleep nie, maar gelukkig is Adriaan-hulle toe darem baie naby en na Ancil die taxis afgeweer het wat haar van hul staanplekke afjaag, laai ons die tjorrie vol en vat die pad na Sarel hulle toe.

Ons het heerlik gekuier. Lindi het heerlike vark gebak.  Sarel en Adriaan het allerhande wyshede oor fietsry kwytgeraak en dit was net een groot vreugde dat ons almal so saam kon wees.

Saterdag, 29 Oktober

Die konferensie het nog een sessie gehad en daarna 'n afsluiting. Ons is in Parys toe.

Na baie beplanning het ons besluit om eers Sacre Coeur toe te gaan. Teen hierdie tyd is ons die moltreine al gewoond en ten spyte daarvan dat ons 3x moet oorklim, kom ons maklik reg.

Reg by die stasie (Abesses) waar ons afklim, is die pragtigste kerkie - Église Saint-Jean-de-Montmartre. Ons is net van voor af beindruk oor die ongelooflike en ou geskiedenis van Europa. Die kerkie is nie eers iewers op die 'map' nie, maar as mens hom in SA kon sit, sou dit 'n ongelooflike besieningswaardigheid gewees het.

Ons is mal oor Montmarte. Daar is baie mense, maar die plek is pragtig en die straatmusikante en skilders maak dit vreeslik interessant.

Die Sacre Coeur is ongelooflik.  Vir die laaste 140 jaar (of so iets) word daar 24/7 gebid. Die kerk het my beindruk. Daarna is ons weer terug, maar het by die Place_du_Tertre eers gan sit en Crepes eet en bier drink. Alles is lekker duur daar, die pannekoek was een van die goedkoopste goed op die spyskaart, en behalwe water, die bier ook.

Na die ete het ons afgedrentel stasie toe, en langs die pad by 'n klein bakkery waar die varsgebakte franse borde in sulke mandjies staan, vor ons eers 'n lang franse brood gekoop. Dit is so vars en lekker, mens eet dit sommer so terwyl jy loop (sonder botter of iets).

Ons volgende bestemming was Cite vir die Sainte-Chapelle en dan die Louvre. Op pad Cite toe, stop die trein en so 'n kwaai omietjie klim op en jaag almal in frans af terwyl hy aanmekaar lang onverstaanbare sinne praat. Blykbaar is die Cite lyn net daar en dan gesluit, en ons moet 'n ander trein of bus vat. Nodeloos om te se is die busse so vol, dat ons na 2 pogings moed opgee en begin stap met tannie GPS. Dit is toe so 2km van Sainte-Chapelle af.

Die pad is toe baie interessant, maar na ons draaiery die oggend raak dit toe al laat en Thinus klap die sweep. Ook maar goed want toe ons by Sainte-Chapelle kom, is die tou baie lank. Na 'n uur of wat toe ons voor kom scan hul ons rugsak en sien daar is 'n knipmes in, en ons moet dit toe of afstaan of gaan ingee by 'n restaurant oorkant die straat. Thinus hardloop toe gou, en hulle maak die hekke so netjies agter hom toe. Ons was die heel laaste mense in die tou wat deurgelaat is!  Sainte-Chapelle is net eenvoudig ongelooflik. Dit is wraggies naas die Michaelangelo-werke in Rome die mooiste kerkie waarin ek nog was.

Daarna het ons net gou kaas, brood en wyn verorber by die restaurant wat die knipmes opgepas het, en is toe Louvre toe. Dit was al laat, maar hulle het die vorige dag vir ons gese die Louvre bly tot 22:00 oop saans. Wat hulle toe nie gese^ het nie, is dat dit die winkels is, en nie die uitstallings nie. Dit het toe liggies begin reen, so ons is maar onder die grond in en het darem die piramide van onder beskou. Ongelukkig het ons niks anders gesien nie, daar is driedubbele rye sekuriteitswagte.

Ons was lekker moeg na die dag en moes toe nog die trein (45min) en bus (15min) terug ry hotel toe. Dit was 'n heerlike dag.

Vrydag, 28 Oktober

Ons was heel dag by die konferensie en is die aand na die konferensie-ete in Parys. Dit is voorafgegaan met 'n bustoer van Parys. Dit was interessant, ons het 'n oulike toergids met die mooi franse naam Gabrielle gehad. Die  guillotine het sy naam van 'n doktor met dieselfde van gekry. Hy het die koning oortuig dat die Guillotine 'n beter manier is om mense tereg te stel as om hulle koppe met 'n byl af te kap, hul te hang of hulle te quarter (waar hulle deur 4 perde in stukke geskeur is). Gedurende die Franse Rewolusie is meer as 1200 mense se koppe op die Place de la Concorde afgekap waarvan Marie Antoinette een was (gedurende die Reign_of_Terror).

Ons het ook verby die Ritz gery en was by die tonnel waar Diana dood is.

Die ete was lekker, maar die kos was nie baie besonders nie. Ons het eers 21:30 begin eet! Oorkant ons het 'n arme vegetarier van Boston gesit wat net veskillende weergawes van blare op sy bord gekry het.

Ons het baie laat eers by die hotel terug gekom, die busrit het nog meer as 'n uur geneem en ons het eers 00.01 weggetrek.