Friday, November 4, 2011

3 November, Venisie

Wat 'n lekker verassing! Die kongres begin vandag, maar op die finale program is dit net allerhande vergaderings en dinge, so ons het die dag af. Ons werk eers mooi uit waar die kongres is (dis belangrik gegee Venisie se paadjies) en daarna sorteer ons bietjie werk en die powerpoint voorlegging uit. Toe vaar ons die strate in.

Dis al laterig toe ons die pad aandurf, maar ons besluit ons stap langpad om San Marco toe. Die groot ding van hierdie plek is die straatjies en die stegies, die kanale en bruggies, en die duisende klein winkeltjies. Ons moet vir almal tuis geskenke koop wat geen triviale taak is nie! Als is regtig duur, maar als is so mooi!  Thinus het vir hom 'n regte Gandalfpyp gekoop.

Toe ons uiteindelik na 'n lang gedrentel op San Marco kom, is die weer lieflik! Gelukkig is die son uit en kan ons die goue mosaieke op San Marco en die San Marco katedraal in die son sien. Laas het ons so natgereen, ons was in kniediep water op die San Marco plein. Ons is toe weer in die St Mark's Basilica in, ek geniet altyd hierdie ou kerk. Dis so donker maar het al die ongelooflike goue mosaieke en marmervloere. Ons het selfs weer E2 elk betaal om die Pala d'Oro weer te sien,  alles net goud en edelgesteentes.

Ons het toe nog bietjie rondgedrentel op die plein, het die Bridge of Sighs gaan soek wat onder restourasie is, en toe begin terug drentel deur die straatjies en winkeltjies. Ek het gelukkig weer ons Bruschetta-plekkie gekry wat nou E8!! vra vir 'n skyfie Bruschetta. Elke keer is hul duurder! Ons het E12 betaal vir 'n piepklein botteltjie Proseco en 'n skyfie Bruschetta wat ons gedeel het, en mens staan en eet!

Langs die pad het ons ingeval in 'n Pizza restaurant waar ons vir die mense kon kyk en Thinus sy Gandalfpyp ingewy het. Toe is ons terug hotel toe zig-zag deur die strate, oor die kanale en by al die winkeltjies in. Ek gaan nog vir my 'n handsak koop as ek net verby die prys kan kom!

No comments:

Post a Comment