Friday, November 4, 2011

Maandag, 31 Oktober, London, Winchester en Halloween

Ons staan Maandag op ons tyd op en sorteer bietjie wasgoed uit. Ons franse hotel het so na rook geruik dat alles uit ons tasse muf is.

Die skole begin weer vir die London-kinders en Sarel en Lindi moet hul organisasie ook inbeplan. Ek sukkel met my rekenaar en het 'n klomp werk om af te handel. Ons moet nog voorberei vir Thinus se afsprake die volgende dag.

Sarel het verlof om ons rond te neem en bietjie te kuier. Hoe spesiaal is dit nou nie! Die plan was aanvanklik om bietjie te gaan rondloop of fietsry in Windsor maar die weer is baie trietsig. Later die oggend neem Sarel-hulle ons toe Winchester toe. Dit is blykbaar een die beste plekke in die UK om te bly. Die dorpie is pragtig en die Winchester Cathedral is 'n absolute hoogtepunt. Een van die konings wat daar begrawe is, is Egbert. Die katedraal dateer uit die 800s, dis net ongelooflik hoe oud hierdie geboue is. Die katedraal het baie gedenkplate en vermeldings van die boereoorlog binne in. Ek is altyd half oorbluf en ontsteld na besoeke aan sulke geboue en kerke. In die eerste plek is dit net verstommend hoeveel eeue se geskiedenis en stories daar in sulke ou geboue is,  maar aan die ander kant beklemtoon dit so mens se eie nietigheid en hoe vinnig mens se ou lewetjie in die niet verdwyn. 

Middagete is in 'n 1000 jaar oue pub waar ons regte 'Pie and Gravy with a Draft' eet. Heerlik! Toe moet ons jaag sodat Lindi die kinders kan oplaai na skool.

Bastie en Geksie
Die aand is dit Halloween. Lindi maak die huis se voordeur op en ons almal moet aanrek, en en sy soos grootmens heksies (of soos sy lekker misspel - geksies). Bastie is onder protes in sy Spinebob-pakkie, Sybren en AD het die vreeslikste maskers op en toe vaar ons die strate in. Dit het Batie net 'n kort rukkie geneem om agter te kom jy klop aan die deure en kry lekkers, en daarna was dit die lekkerste dag ooit met gille en huppels van plesier. Sy arm het later seer geword van reguit-arm die lekkers dra, mar daar was geen keer nie!

Ons sorteer verder die aand maar net ons dinge uit en ek is dankbaar vir 'n bietjie meer rustigheid.

No comments:

Post a Comment