Friday, November 4, 2011

Saterdag, 29 Oktober

Die konferensie het nog een sessie gehad en daarna 'n afsluiting. Ons is in Parys toe.

Na baie beplanning het ons besluit om eers Sacre Coeur toe te gaan. Teen hierdie tyd is ons die moltreine al gewoond en ten spyte daarvan dat ons 3x moet oorklim, kom ons maklik reg.

Reg by die stasie (Abesses) waar ons afklim, is die pragtigste kerkie - Église Saint-Jean-de-Montmartre. Ons is net van voor af beindruk oor die ongelooflike en ou geskiedenis van Europa. Die kerkie is nie eers iewers op die 'map' nie, maar as mens hom in SA kon sit, sou dit 'n ongelooflike besieningswaardigheid gewees het.

Ons is mal oor Montmarte. Daar is baie mense, maar die plek is pragtig en die straatmusikante en skilders maak dit vreeslik interessant.

Die Sacre Coeur is ongelooflik.  Vir die laaste 140 jaar (of so iets) word daar 24/7 gebid. Die kerk het my beindruk. Daarna is ons weer terug, maar het by die Place_du_Tertre eers gan sit en Crepes eet en bier drink. Alles is lekker duur daar, die pannekoek was een van die goedkoopste goed op die spyskaart, en behalwe water, die bier ook.

Na die ete het ons afgedrentel stasie toe, en langs die pad by 'n klein bakkery waar die varsgebakte franse borde in sulke mandjies staan, vor ons eers 'n lang franse brood gekoop. Dit is so vars en lekker, mens eet dit sommer so terwyl jy loop (sonder botter of iets).

Ons volgende bestemming was Cite vir die Sainte-Chapelle en dan die Louvre. Op pad Cite toe, stop die trein en so 'n kwaai omietjie klim op en jaag almal in frans af terwyl hy aanmekaar lang onverstaanbare sinne praat. Blykbaar is die Cite lyn net daar en dan gesluit, en ons moet 'n ander trein of bus vat. Nodeloos om te se is die busse so vol, dat ons na 2 pogings moed opgee en begin stap met tannie GPS. Dit is toe so 2km van Sainte-Chapelle af.

Die pad is toe baie interessant, maar na ons draaiery die oggend raak dit toe al laat en Thinus klap die sweep. Ook maar goed want toe ons by Sainte-Chapelle kom, is die tou baie lank. Na 'n uur of wat toe ons voor kom scan hul ons rugsak en sien daar is 'n knipmes in, en ons moet dit toe of afstaan of gaan ingee by 'n restaurant oorkant die straat. Thinus hardloop toe gou, en hulle maak die hekke so netjies agter hom toe. Ons was die heel laaste mense in die tou wat deurgelaat is!  Sainte-Chapelle is net eenvoudig ongelooflik. Dit is wraggies naas die Michaelangelo-werke in Rome die mooiste kerkie waarin ek nog was.

Daarna het ons net gou kaas, brood en wyn verorber by die restaurant wat die knipmes opgepas het, en is toe Louvre toe. Dit was al laat, maar hulle het die vorige dag vir ons gese die Louvre bly tot 22:00 oop saans. Wat hulle toe nie gese^ het nie, is dat dit die winkels is, en nie die uitstallings nie. Dit het toe liggies begin reen, so ons is maar onder die grond in en het darem die piramide van onder beskou. Ongelukkig het ons niks anders gesien nie, daar is driedubbele rye sekuriteitswagte.

Ons was lekker moeg na die dag en moes toe nog die trein (45min) en bus (15min) terug ry hotel toe. Dit was 'n heerlike dag.

No comments:

Post a Comment